×
000
HTS Sport Banner Rugby

Swem by HTS Drostdy sorg jaarliks vir opwinding en prestasie. Swemmers wat swem as sport beoefen, neem deel aan die “Boland Aquatics”-galas wat deur die loop van die seisoen by verskillende skole in die Wes-Kaap aangebied word. Van hierdie swemmers neem ook op provinsiale vlak deel en hou HTS Drostdy se naam hoog by WP-proewe asook by vlak 1-,2- en 3-kompetisies. Erkenning vir hierdie goeie prestasies word vir hierdie leerders gegee tydens die jaarlikse sportprysuitdeling.

Hierdie jaar het swemmers by die Girls’ High aflosgala, sowel as die Bloemhof gala besonder presteer met aflosse wat verskeie kere die podium behaal het. Leerders by hierdie kompetisies mag aan twee individuele resies deelneem, uitsluitend die 100 m IM/200 m IM. Hierdie reëling bied aan alle leerders ‘n kans om deel te neem. Leerders neem deel in 0/14-, 0/16- en 0/19-ouderdomsgroepe. Skoolgalas is iets waarna elke HTS Drostdy-swemmer uitsien, veral die aflos-galas.

HTS Drostdy bied jaarliks ‘n ‘n Interkoshuisgala aan waar die seuns en dogters elkeen in ‘n aparte byeenkoms deelneem.

Beide kompetisies sorg vir baie pret en dit skep geleentheid vir selfs die leerders wat nie swem as ‘n sport beoefen om deel te neem en vir hul koshuis en punte bymekaar te maak. Tesame met al die ander interkoshuisaktiwiteite maak hierdie gala ook ‘n groot deel uit van wie uiteindelik die koshuisbeker sal wen. Hierdie kompetisie dien ook as die proewe vir insluiting in die HTS Drostdy se swemspan.

HTS Drostdy spog met ‘n half-olimpiesestandaard-swembad waar seuns en dogters Maandae tot Donderdae tydens die eerste en vierde kwartaal oefen en dan aan galas, meestal op Donderdae en Saterdae, deelneem. Die dogters word afgerig deur Mev Roos, en die seuns deur Mej Fontini. Mev Roos neem ook die leisels vir die bestuur van swem vir 2021.

Swem as ‘n sport is besig om te groei in HTS Drostdy en daar word groot dinge beplan vir die volgende seisoen om swem na hoër hoogtes te lei. Is jy reg om jou swempet en swembril af te stof en die HTS Drostdy se water te beleef?

Swem-organiseerder

Berenice Roos
Selnommer: 076 918 4050
E-pos: bereniceroos@htsdrostdy.co.za

Swem-afrigters

Berenice Roos
Di-Andi Fontini

Oefentye

Maandae, Dinsdae en Donderdae
14:15 – 15:45