×
000
HTS Sport Banner Rugby

Die eerste Noord-Suid Derby het in 2014 begin waar slegs 4 skole deelgeneem het by HTS Drostdy. Die behoefte het ontstaan dat skole met al hulle A-spanne saam toer om aan een toernooi te gaan deelneem – ‘n toernooi waar die spelers mekaar kan ondersteun en die skool se afrigterspan met mekaar tyd kan spandeer om hulle voorbereiding vir die seisoen te bespreek en beplan.

Soos met enige sport, vereis dit dat daar ook ‘n eenheidsgevoel moet wees en op wat ‘n beter manier as wanneer jou eerste span jou nuwe o/14 span kan ondersteun en goed kan leer ken. Meer spelers kry die geleentheid om saam te speel en só word die spanne vir die seisoen gereed gekry.

Omdat daar nie deur ‘n jaar geleentheid is vir skole van die Noorde om teen skole van die Suide te speel nie, het die behoefte ontstaan om dit op ‘n ander groot geleentheid te doen. Skole van regoor die land kry op hierdie manier die geleentheid en só word daar ook bande gebou wat voorheen nie moontlik was nie.

Ons is ook bevoorreg om spesiale borge aan boord te hê vanaf 2020: Afrimat, Albany en Kaap Agri. Ons bedank graag hierdie organisasies wat bereid is om in ons jeug te investeer en hul die geleentheid te gee om op die hoogste vlak deel te neem. Ons salueer julle.
Maar geen toernooi kan egter suksesvol wees as daar nie ‘n duidelike visie is nie.

Ons waardeverklaring vir die toernooi is die volgende:
Psalm 127: – Waardeverklaring van die toernooi
“As die Here die huis nie bou nie, is die bouers se arbeid tevergeefs.
As die Here die stad nie beskerm nie, waak die wagte tevergeefs.
Kinders is ‘n gawe van die Here, die vrug van die moederskoot is ‘n beloning.”

Neem asb kennis dat die Afrimat Noord-Suid Derby vir 2021 onbepaald afgestel is.

NOORD-SUID DERBY 2021

Die Hoër Tegniese Skool Drostdy nooi u skool uit om deel te neem aan die Afrimat Noord-Suid Derby in 2021, wat van Maandag 5 April tot Saterdag 10 April 2021 sal plaasvind. Die Afrimat Noord-Suid Derby is een van die voorste rugbytoernooie in die land en ons sal geëerd voel om u skool, as deel van hierdie nuwe toevoeging tot die Afrimat Noord-Suid Derby – o/19 hokkie (seuns en dogters) en o/19 netbal te verwelkom, waar skole van regoor die land by hierdie gesogte toernooi sal deelneem.

HTS Drostdy moes ongelukkig weens die COVID-19 die toernooi van 2020 kanselleer wat `n groot hoogtepunt vir 2020 sou wees. Ons glo dus dat 2021 se beplanning vir hierdie prestige toernooi nog beter en meer voortreflik sal wees. 

Rugby:

  • Die rugby sal op ‘n Noord-teen-Suid-basis plaasvind om te verseker spanne speel teen ‘n opposisiespan wat hulle nooit op hul rugbykalender ontmoet nie. Elke span sal drie wedstryde tydens die toernooi speel wat op die Saterdag, Maandag en Woensdag sal plaasvind.
  • Daar is ses skole van die Noorde en ses skole van die Suide in elk van hierdie ouderdomsgroepe.
  • Elke skool moet by die inskrywing ‘n deposito van R 1500-00 per span betaal.
  • Ons maak voorsiening vir 22 spelers by o/14-, o/15- en o/16-spanne, 23 spelers by die o/19’s asook, twee afrigters vir elke rugbyspan.
  • Die twee afrigters se kostes beloop R350 per persoon vir verblyf – wat hulle ook toegang na die Bok-en-Biltongaand sal gee wat die Dinsdagaand – saam met `n klomp Springbok-rugbyspelers en legendes – sal plaasvind.

Netbal:

  • Ons het twaalf o/19-netbalspanne wat aan die Afrimat Noord-Suid Derby gaan deelneem, wat in 2 poele van 6 opgedeel word. Die een poel se spanne sal teen die ander poel se 6 spanne speel. Die uitslae sal gebruik word om spanne in te deel om uiteindelik vir die 1ste tot 12de posisie uit te speel.
  • Elke skool moet by die inskrywing ‘n deposito van R 1500-00 betaal.
  • Ons maak voorsiening vir 10 spelers en twee afrigters/skeidsregter vir elke netbalspan.
  • Die twee afrigters se kostes beloop R350 per persoon vir verblyf wat hulle ook toegang na die Bok-en-Biltongaand sal gee wat die Dinsdagaand – saam met `n klomp Springbok-rugbyspelers en legendes – sal plaasvind.
  • Elke span moet asseblief `n skeidsregter beskikbaar stel met `n Provinsiale C+-gradering. Indien nie, sal daar `n heffing van R1000 per span wees.

Hokkie:

  • Die hokkietoernooi bestaan uit 10 seuns- en 10 dogtershokkiespanne wat dieselfde formaat as die netbalspanne volg. Spanne is in 2 poele van 5 opgedeel. Die een poel se spanne sal teen die ander poel se 5 spanne speel. Die uitslae sal gebruik word om spanne in te deel om uiteindelik vir die 1ste tot 10de posisie uit te speel.
  • Elke span moet by die inskrywing ‘n deposito van R 1500-00 betaal.
  • Ons maak voorsiening vir `n maksimum van 16 spelers en twee afrigters vir elke hokkiespan.
  • Die twee afrigters se kostes beloop R350 per persoon vir verblyf wat hulle ook toegang na die Bok-en-Biltongaand sal gee wat die Disndagaand – saam met `n klomp Springbok-rugbyspelers en legendes – sal plaasvind.
  • Elke span moet asseblief `n skeidsregter beskikbaar stel met `n Vlak 1-gradering. Indien nie, sal daar `n heffing van R1000 per span wees.

Kostes:

  • Kostes beloop R 1350-00 per leerder asook busbestuurders.
  • Enige ekstra spanbestuurders/afrigters moet ‘n bedrag van R2000 betaal.
  • Dit kostes sluit die volgende in: verblyf, ontbyt, middagete, aandete asook ‘n T-hemp. Daar sal egter geen middagetes verskaf word op Vrydag, 9 April 2021, nie.
  • Ons weet dat die afrigters en personeel hulle vakansies opoffer om spanne te vergesel en daarom word daar heelwat funksies aangebied soos bv. die Bok-en-Biltongaand saam met Dawie Spies en nog Springbok-legendes.
  • Kostes vir leerders sluit vertonings in van bekende sangers asook ‘n gasspreker in.

Voorlopige program:

  • Spanne arriveer deur die loop van Maandagoggend, 5 April 2021 by HTS Drostdy en daarna meld spanne by hulle onderskeie verblyfplekke aan.
  • Hokkie-en-netbal-openingswedstryde sal om 15:00 begin.
  • Spanne meld om 16:30 by HTS Drostdy aan vir die openingseremonie wat om 17:00 sal begin.
  • ‘n Rugby-openingswedstryd sal om 17:30 begin.
  • Op Dinsdag 6 April 2021, begin die toernooi om 08:00.
  • Rugbywedstryde sal op Saterdag, Maandag en Woensdag plaasvind.
  • Netbal- en hokkiewedstryde sal op Saterdag, Maandag, Dinsdag en Woensdag plaasvind.
  • Ons beoog dat alle wedstryde op Woensdag teen 14:00 voltooi sal wees.

Die organiseerders van die Afrimat Noord-Suid Derby werk hard om die toernooi ‘n aangename ervaring te maak (beide op en van die veld af vir die spelers en personeel). Die spanne geniet die gulde geleentheid om teen opposisie van regoor die land te speel, terwyl hulle die gees van sportmanskap en vriendskap kan uitleef. Op ons pragtige kampus in die hartjie van die Breedevallei (naby die pragtige Kaapse strande en natuurlike en kulturele vermaaklikheidsplekke) kan besoekers dus die Afrimat Noord-Suid Derby ten volle geniet.

Aangesien skole se dagboeke elke jaar toenemend voller is, wil ons graag vaste verbintenisse met die hoë profiel en hoogs bekroonde skole vestig. Ons kan hulle dan so vroeg moontlik nooi en sodoende vir 2021 beplan. Om die skole te akkommodeer, wat uitgenooi word, sal dit waardeer word indien u dringend op hierdie uitnodiging reageer. Daar is alreeds skole wie ‘n aanduiding gegee het dat hulle deel van 2021 se Afrimat Noord-Suid Derby in Worcester sal wees. Ongelukkig sal ons net ‘n maksimum van twaalf rugbyskole o/14-o/19 (1 span per ouderdom, per skool), `n maksimum van twaalf o/19-netbalspanne, tien  seunshokkiespanne asook tien dogtershokkie-spanne kan akkommodeer in die toernooi.

Voorlopige program en aanpassings gaan heel moontlik gemaak word nader aan die tyd.

Volg Ons Op:

Kontakpersone vir enige inligting

Marie-Louise Visser
(Netbal)

marielouisevisser@htsdrostdy.co.za
082 623 2867

Sylvester Booysen
(Toernooi Organiseerder en Rugby)

rugby@htsdrostdy.co.za
082 633 9956

Daniël Roothman
(Hokkie)

hokkie@htsdrostdy.co.za
072 507 9372