×
000
HTS Sport Banner Rugby

Dit is vir ons belangrik dat leerders op alle terreine deelneem, en hulself uitleef en presteer. Ons moedig derhalwe deelname aan en gee erkenning aan aktiwiteite wat nie deur die skool aangebied word nie.

Tans neem baie van ons leerlinge deel aan verskeie buite-sportsoorte. Dit sluit onder andere ballet, binnehuise hokkie, boogskiet, dans, gimnastiek, judo, jukskei, karate, kunsaashengel, muurbal, onderwaterhokkie, perdry, rolbal, tweekamp, varswaterhengel en veldwedrenne.

PRESTASIES 2022

SA JUNIOR TENTPEGGING
Lambert Smith (graad 9) het gedurende Desember 2021 aan die Suid-Afrikaanse Junior Tentpegging Kampioenskap in Middelburg, Mpumalanga deelgeneem. Hy is verkies tot die o.20-SA-seuns Federasie span met ‘n algehele 3e plek en verteenwoordig ook die o.20-SA-Federasie merietespan.
 
Hy verwerf dus sy o.20-SA-Federasie kleure. Hy het ook tydens die kampioenskap die trofee ontvang vir “Best man at arms” o.15 (beste wapenhantering vir ‘n o.15-ruiter.)
 
Baie geluk met hierdie fantastiese prestasie. Ons glo en vertrou dat daar in 2022 ‘n internasionale toets gereël kan word sodat hy ook die geleentheid kan hê om se Protea kleure te verwerf.
BOLAND ROLBAL
Xander Germishuys het einde 2021 sy Boland o.20-kleure in rolbal verwerf en is aangewys as die Boland Enkelskampioen.
 
Hy is een van die spelers wat Boland vanaf 28 Maart tot 1 April by die Nasionale Kampioenskap in Bloemfontein gaan verteenwoordig.
 
Baie geluk met hierdie besondere prestasie. 
 
OKAVANGO VASBYT
Duandri Theron het die afgelope vakansie deelgeneem aan die Okavango Vasbyt in Botswana en Zimbabwe.
 
Hiermee verwerf sy die gesogte Vasbytsertifikaat wat binnekort deur haar toerleier by die skool aan haar oorhandig sal word.
 
Baie geluk met die mooi prestasie!
KAAPSE WYNLAND JUKSKEI
Baie geluk aan Annika Augustyn wat die afgelope vakansie die Kaapse Wynland Akademie Jukskeispan by die SA Junior Kampioenskap verteenwoordig het.
 
Die span het 2de geëindig en dus ‘n silwer medalje verower. Dit is voorwaar ‘n pragtige prestasie.
 
 
  
 

PRESTASIES 2021

ONDERWATER-HOKKIE

Baie geluk aan Rohan Burger wat deel was van die O.19 Boland onderwater hokkie span wat tydens die Junior nasionale kampioenskappe wat tussen 29 April – 1 Mei in Somerset Wes plaasgevind het  ‘n 4de plek verower het.

RITMIESE GIMNASTIEK
Charné Jordaan het onlangs deelgeneem aan die Kaapse Wynland distrikskompetisie vir ritmiese gimnastiek.
 
Sy is tans vlak 7 en het tydens dié byeenkoms haar Boland-kleure verwerf.
 
Ons is baie trots op hierdie besondere prestasie en wens haar alle voorspoed toe.
EQUESTRIAN TENTPEGGING

Een van ons graad 8-leerders, Lambert Smith, het op 25 September 2021 deelgeneem aan die Wes-Kaap Tentpegging Kampioenskap te Old N1 Equestrian Centre, Rawsonville, waar hy verkies is tot die Wes-Kaap Tentpegging Junior Merietespan.

Volle provinsiale klere is aan hom toegeken en hy sal op 18 Desember 2021 in Middelburg saam met die res van sy span deelneem aan die 2021 Tentpegging Interprovinsiale Kampioenskap.

Ons is baie trots op Lambert met hierdie prestasie en wens hom alle sterkte toe met sy voorbereiding vir die volgende kompetisie. 

PRESTASIES 2020

SWEM

Baie geluk aan vier van ons swemmers wat by die Jack Currie Kampioenskap uitstekend presteer het!
v.l.n.r.: Danté Marais (3 goud, 3 silwer, 1 brons), Klara Naudé (2 goud, 2 brons), Claudi Bester (4 goud, 2 silwer, 1 brons), Aldo Marais (2 goud, 1 silwer)

KUNSAASHENGEL

Baie geluk aan HanroGriessel en Gerrit Jonker wat opgeneem is in die SA-span vir Kunsaashengel. Hulle het vanaf 11 – 16 Februarie 2020 aan ‘n internasionale kompetisie deelgeneem. Hanro is ook aangewys as die kaptein van die span.

NASP BOOGSKIET

Willem en Christiaan Ellis (albei Gr.8) het op 27 Januarie deelgeneem aan die NASP boogskiet interskole. Hoewel hulle as individue skiet, is hulle trots om te sê waar hulle vandaan kom en het in hulle koshuishempies deelgeneem.

SANESA – PERDRY

Benneli Moodie het tydens die naweek van 2 – 4 Februarie in Stellenbosch by SDRC deelgeneem waar sy Drostdy as ruiter verteenwoordig het. Haar uitslae is as volg:
Equitation – 3 de plek
Dressage – 2 × 4 de plekke
Performanceriding – 3 de plek
Workingriding – 1 ste plek
80 cm jumpingcompetition – 2 de plek

O/18 SA-SEWESSPELER

Christie Grobbelaar is opgeneem in die O/18 SA-Sewesspan oefengroep wat van 9 – 10 Maart in Namibië in ‘n internasionale toernooi gaan speel. Die finale span word op 16 Februarie aangekondig.
Ons is baie trots op Christie wat in 2017 reeds ons land in die O/17 SA-Sewesspan verteenwoordig het.