×
000
Geagte ouers en Skoolgemeenskap

Ons leef voorwaar in vreemde tye waar onsekerheid en selfs vrees aan die orde van die dag is.
Hier by HTS Drostdy het 2021 ook baie anders as gewoonlik aangebreek. Die skool begin eers in middel Februarie en dan begin ons ook sonder ons geliefde hoof, Mnr. Arthur Underhay wat in Desember afgesterf het.

Mnr. Underhay se heengaan bly ‘n reuse skok vir die ganse skoolgemeenskap. Sy passie, gedrewenheid en visionêre leierskap sal terdeë gemis word. Ons gun almal die tyd om te rou en die verlies te verwerk.

Hy self, het egter altyd gesê, “As jy stilstaan gaan die ander by jou verby.” Ons het derhalwe geen ander plan as voluit vorentoe, beter en hoër. Die strukture, gemotiveerde personeel, afrigters en uitstekende fasiliteite is gereed om van 2021 ‘n groot sukses te maak. Alhoewel die pandemie en meegaande grendelregulasies steeds ontwrigtend is, glo en vertrou ons dat Drostdy vinnig weer al ons aktiwiteite ten volle sal kan bied.

Ons personeel en leerders se veiligheid en gesondheid sal egter altyd die hoogste prioriteit geniet.

Daar is so baie om oor opgewonde te wees. Die grootste graad 8 groep nog sluit by ons aan met die skool se 118de verjaarsdag. Ons sien uit na uitstekende matriekuitslae van die Klas van 2020 maar ook van 2021 se matrieks. Ons splinternuwe hoofnetbalbaan nader voltooiing en die skool het ‘n uitstekende nuwe koorafrigter en begeleier aangestel.

U kind se akademiese vordering is en bly die hooffokus. In 2021 begin ons met ‘n nuwe vak in Landboutegnologie wat ek weet van krag tot krag sal gaan. Dit is ook ‘n prioriteit om ons Innovasiesentrum nog verder uit te bou.

Daar sluit nege nuwe personeellede by ons aan, wat u elders op hierdie webtuiste sal kan sien. Daar is onder andere ‘n nuwe kondisioneringsafrigter, Mnr. Ruaan Smith en ook Mnr. Manie Botha wat spesifiek gaan fokus op leierskapsontwikkeling en leerdermotivering.

Die skool se terrein en geboue was Mnr. Underhay se trots en ons het dit ten doel om dit netjieser as ooit te hou. Daar sal in 2021 spesifiek ook gekyk word na ekstra kleedkamers vir ons dogters.

As ouers kan u werklik trots wees op die Beheerliggaamlede wat u verkies het onder leiding van Mnr. Koos Smit as Voorsitter. In hierdie moeilike tye stap hulle baie meer as net die ekstra myl en verdien hulle groot lof.

Groot dank aan Me Gisela Booysen, die dryfkrag agter hierdie fantastiese nuwe webtuiste. Dit is voorwaar ‘n uitnemende produk wat ek glo u ook gaan geniet en met gemak gebruik.

Ek wens vir u en u mense vreugde, vrede, voorspoed en ook volgehoue gesondheid toe. Met God se genade
sal 2021 ‘n sukses wees, want Hy loop al die pad saam met ons.

Donkie-groete

Louis Steijn
Waarnemende Hoof

By HTS Drostdy glo ons dat betrokke leerders ook gelukkige leerders is. Daarom moedig ons leerders aan om deel te neem aan die aktiwiteite by die skool. Die personeel gaan met deernis en verantwoordelikheid om met elke leerder wat aan ons toevertrou word. Ons skep ook positiewe verwagtings, want ons glo dit lei tot positiewe resultate.

Drostdy wil altyd streef om beter te wees. ’n Skool wat passievol is oor wen en om die beste te wees en wat resultate oplewer, neig om weer mededingende ouers en leerders,wat gemotiveerd is, te lok. Selfmotivering is beslis een van die sleutels tot sukses. Dit is vir ons belangrik om aan die leerders soveel as moontlik geleenthede te bied om hul potensiaal te ontgin.

Ons streef daarna om beginselvaste, doelgerigte jongmense op te lei wat die eise van die moderne samelewing kan trompop loop en ’n sukses daarvan kan maak. Ons streef ook daarna om vir ons leerders ‘n gebalanseerde opvoedingsituasie binne ‘n Christelike omgewing te skep.
Skoolgaan moet egter ook pret wees. Elke Drostdyer moet met reg kan sê: “Ek is ’n trotse Donkie, ’n Donkie wat vir mense omgee.” Drostdy is ‘n belewenis!