×
000

2018

Drostdy neem musiekproduksie na nog hoër hoogtes

HTS Drostdy het met hul afgelope Revue weereens bewys dat die skool se musiek- en kultuurtalent van uitstaande gehalte is. Hierdie afdelings het vanaf die laaste produksie, toe Drostdy die nasionale naaswenners van die Kyknet kompetisie was, ontwikkel en vergroot sodat Drostdy tans die voortou neem wat kultuurproduksies betref.
Die tema van hierdie jaar was Liefde. Die storie is losweg gebaseer op die liefdesverhale van Romeo en Juliet en Troy. Hierdie ouwêreldse stories is deesdae ook baie gewild onder jongmense, omdat dit so populêr is as lokketfilmtemas.
Volgens die produksiespan, wat gelei is deur Rensia Vermeulen en Pieter Ras, was dit veral kosbaar dat die koperblaasorkes, koor, drama en dansgroepe van die skool met entoesiasme en in groot getale deelgeneem het. Na maande se toegewyde oefening is die produksie afgerond gedurende die laaste week van die Julie skoolvakansie toe ‘n Revue-kamp by die skool plaasgevind het. Rensia Vermeulen sê dat elke lid van die groep, asook vrywillige helpers agter die verhoog, sonder enige moeite bereid was om alles te gee om van die produksie ‘n dawerende sukses te maak.

Twee van die onderwysers, wat met die choreografie gehelp het, Suanne Swart en Tarien de Wet, het werklik die beweging op die verhoog op ‘n unieke wyse laat saamsmelt met die tema.
Gehore van byna 2000 mense kon 4 vertonings bywoon en die reaksie was oorweldigend. Hoogste lof het ingestroom oor die uitstekende sangtalent van die 4 hoofkarakters: JP le Roux, Etloné Nolte, Philip Alberts en Brooklyn Moffat. Drostdy het ook ‘n spesiale vertoning aangebied wat senior burgers van die hele area gratis kon bywoon en waar hulle getrakteer is met verversings.
Die hoogtepunt was die Vrydagaand gala-vertoning toe daar tydens die pouse verversings, in klein bootjies bedien, in die middel-eeuse tema langs brandende buite-kaggels gekuier is. Die aand is afgesluit met volgelaaide feestafels in die skoolsaal. Die volgende musiekproduksie word beplan vir 2021 – voorwaar iets om met verwagting na uit te sien!

Afri-dans Revue 2016

Na ons suksesvolle revue by die skool, het ons ingeskryf vir die kykNet Revue 2016 kompetisie. Drostdy se Afri-dans revue is aangewys in die 2de plek. 1ste was Hoërskool Hans Moore en 3de was Hoërskool Kemptonpark. Vir ons kinders was dit ‘n ongelooflike ervaring.