Home » Geskiedenis

Geskiedenis


Aan die onderent van Hoogstraat staan ‘n indrukwekkende gebou wat die besoeker aan Worcester dadelik tref — die pragtige, geskiedkundige ou Drostdy-gebou, verklaarde historiese monument en die spil waarom die ontwikkeling van HTS Drostdy oor die afgelope eeu gedraai het.

As gevolg van ‘n verwoestende winterstorm van 19 tot 25 Julie 1822 wat die drostdy op Tulbagh erg beskadig, word die landdrossetel deur die destydse Kaapse goewerneur, Lord Charles Somerset, van Tulbagh na Worcester verskuif. Aan die begin van 1823 begin die bouwerk aan die drostdy op die pas gestigte Worcester en alhoewel dit nog nie heeltemal voltooi is nie, kan die gebou in 1825 betrek word. Kaptein Charles Trappes is die eerste landdros van die nuwe setel en dus ook die eerste bewoner van die Drostdy-gebou. Hy is op 25 September 1828 op 52-jarige ouderdom oorlede en lê op die Drostdy-terrein, langs die hedendaagse A-rugbyveld en die pawiljoen, begrawe.

Aangesien die Breërivier telkens sy walle oorstroom het, ontwikkel Worcester in ‘n oostelike rigting sodat die Drostdy op die westelike grens van die dorp geleë is. Nadat ‘n nuwe magistraatskantoor in die sentrale deel van die dorp in 1893 gebou is, dien die ou Drostdy-gebou tot die einde van 1902 uitsluitlik as magistraatwoning.

Aan die begin van 1903, 80 jaar na die oprigting van die Drostdy-gebou, begin ‘n heel nuwe fase in die geskiedenis: die fase van onderwysinrigting waarvan die honderdjarige bestaan in 2003 luisterryk gevier kon word. Tydens die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) spreek talle Boere-krygsgevangenes die wens uit dat hulle as sendelinge opgelei wil word. Toe die Drostdy-gebou dus in 1902 te koop aangebied word, word dit deur die NG Kerk aangekoop en op Donderdag, 12 Februarie 1903 open die “Boeren Zending School” amptelik met ds. A.F. Louw as eerste skoolhoof. In 1911 vind ‘n naamsverandering plaas: Die “Boeren Zending School” word ‘n industriële skool onder die amptelike benaming “Drostdy School”.

Die leerdertal styg steeds en in 1925 neem die Departement van Unie-onderwys die skool oor en word dit ‘n ambagskool. Sedert 1944 staan die Drostdy-skool amptelik as die Hoër Tegniese Skool Drostdy bekend en gaan dit van krag tot krag na die trotse instelling wat dit vandag vergestalt.

DIE DONKIENAAM: TWEE TEORIEË

Oor die ontstaan van die Donkie-naam is daar meningsverskil, maar dit blyk dat die naam tog uit die beginjare van die Drostdy as “Boeren Zending School” dateer. By die opening van die skool in 1903 was daar onder andere sewentien studente van die reeds bestaande Wellingtonse Sendinginstituut teenwoordig, want die Drostdy sou voortaan die voedingsaar vir die inrigting wees. Toe die Wellingtonse sendingstudente daarna aan ‘n naam begin dink, het ds. Andrew Murray met die naam DONKIE vorendag gekom na aanleiding van Christus se intog in Jerusalem op die rug van ‘n donkie. So sou die donkie die sendeling as draer van die Christus-evangelie voorstel. Toe die Drostdy in 1911 ‘n industriële skool word en sy direkte verbintenis met Wellington se Sendingskool verloor, was die Donkie-naam egter reeds so ingeburger dat dit gebly het. Duisende Donkies, oor die jare tot op hede, sou deur die Drostdy die lewe binnegaan.

En die tweede teorie?

In 1919 het Drostdy se eerste rugbyspan sy eerste wegwedstryd gespeel — teen die Akkedisse op Villiersdorp. Al vervoermiddel tot hul beskikking was ‘n wa en span donkies waarmee die eerste span reeds die Vrydagoggend om tienuur vertrek en die middag laat op Villiersdorp aangekom het. Die hoof en die afrigter, mnr. CJ Krynauw, is eers die middag drie-uur met ’n motorfiets-en-syspan uit Worcester weg. Die Villiersdorpers het die Drostdyers op die donkiewa baie amusant gevind en hulle is dadelik die Donkies gedoop. Die Donkies het egter gewys waartoe hulle in staat is en die Saterdagoggend die Akkedisse 4-0 op hul tuisveld geklop! (‘n Skepskop het destyds nog 4 punte getel.)