Home » Belewenisweek

Belewenisweek

“HTS DROSTDY WIL MET HIERDIE JAARLIKSE INSTELLING VOLUIT GAAN EN INSPIREER, OPHEF, HANDE VAT EN DANKIE SÊ VIR GENADE SO ONBESKRYFLIK GROOT.
Dankie aan elke personeellid en borg wat bygedra het tot ‘n suksesvolle week”.
-Annamarie Underhay-

HTS DROSTDY-MANNEAAND
Dinsdag 9 Mei 2017 het 300 jong manne bymekaar gekom, almal met een
gesamentlike doel: om die aand saam met vriende in Stalshuis se saal te geniet.
30 tafels het elkeen ‘n Trotse Drostdyer as gasheer gehad.
Hy was verantwoordelik om 9 vriende/8 vriende en 1 mentor te nooi – die mentor mag slegs sy pa of ‘n onderwyser van Drostdy wees.
Hierdie gashere is voorberei om deeglik te besin oor hulle gaste: Dit moes manne wees saam met wie jy ‘n pad sal stap; manne wat besef dat dit ‘n voorreg is om op ‘n aand soos hierdie saam om ‘n tafel te kan sit en luister na Dawie Spies van Manne van die Woord se boodskap.
Frikkie Badenhorst, hoofseun van 201,4 het ook as gasspreker opgetree. Ons beoog om Frikkie aanstaande jaar weer as gas te nooi, maar nog ‘n oudhoofseun as spreker by te voeg en so oor die toekomstige jare tafels van oudhoofleiers vol te maak.
Mnr. Gerrie Scheepers met sy kitaar het voorgegaan met die sing van ons nuwe liedjie: Manne dis ‘n voorreg!
Die spyskaart van die aand het nie teleurgestel nie: 750 lamtjops is gebraai en geniet met 400 roosterkoeke wat ons personeel op oop vure gebak het.
Dankie aan al die ouers wat onbeskaamd bygedra het en personeel wat onverpoosd gewerk het. Ek glo dat die getuienis na die tyd van ons dankbaarheid getuig.
Elke gas wat wou bydra tot OOM Hansen se Gemeenskapskas was welkom om ‘n toiletware-item in die groot rooi kas te plaas. Dit word uitgedeel aan Donkies soos die behoefte ontstaan.
Elkeen van die 300 seuns het ‘n pragtige onderbord ontvang wat as aandenking en herinnering gebêre kan word.

HTS DROSTDY-DOGTERSAAND
Donderdag 11 Mei 2017 was dit die dogters se geleentheid om pragtig aan te trek en in die MJ de Wet-skoolsaal bymekaar te kom.
27 tafels het elkeen’n Trotse Drostdy-dame as gasvrou gehad.
Sy was soos die seunsaand verantwoordelik om 9 vriendinne/8 vriendinne en 1 mentor te nooi – die mentor mag slegs haar ma of ‘n onderwyseres van Drostdy wees.
Hierdie gasvroue is ook voorberei om mooi na te dink oor wie haar ware vriendinne is – aangesien ons slegs 200 dogters in die skool het, mag die dogters ook vriendinne uit ander skole nooi.
Die tema was Ontpop. Elsabe Aldrich het die boodskap baie mooi oorgedra dat ons elkeen verantwoordelik is vir ons eie besluite, geleenthede word gebied, besluite moet gemaak word en gevolge word gedra.
Tiana Rall, hoofdogter van 2014, het as gasspreker opgetree en haar ervaring van die jare na Drostdy met die dogters gedeel. Sy het ook gesels oor hoe haar Drostdy-belewenis haar gehelp het in tye waar sy moeilike besluite moes neem.
Aanstaande jaar sal Tiana weer genooi word saam met nog ‘n oudhoofdogter en so sal dit groei tot ‘n tafel of twee van oudhoofmeisies. FOTO’S
Ons nuutste sangontdekking was reg onder ons neuse. Amy Hatting het die tema Denim, Popcorn & Diamonds verder gevoer met haar lieflike sang en pragtige uitrusting.
Die aand se verversings is in samewerking met die kombuis en kafeteria keurig voorgesit saam met Du Toitskloof se wit en rooi druiwesap.
Weer het die jong dames toiletware geskenk vir die skool se gemeenskapskas.
As geskenk neem elke jong dame ‘n “grip-n-go”-waterbottel huis toe met die woorde Belewenisweek 2017 daarop.

HTS DROSTDY-DAMESAAND
Vrydag 12 Mei 2017 was dit die dames se beurt om met sakke linne, mandjies eetgoed en lekker wyne vanaf 12:00 die middag tafels te kom dek.
32 dames het as gasvroue opgetree en elk ‘n tafel van 10 bedien.
Daar is dus aanr 320 vroue lekker geselskap, heerlike eetgoed en ‘n onvergeetlike verhoogprogram gebied.
Kiki is ‘n gekwalifiseerde tekenaar, maar sy het besluit mense lag te min, mense is te ernstig en het ‘n kopskuif gemaak en lagterapie begin toepas. Sy word wêreldwyd genooi om hospitale, polisie, brandweermanne en selfs onderwysers met haar aansteeklike lag te vermaak en laat ontspan.
Sy is opgevolg deur ‘n dierbare, pragtige vrou, Ivy Sutton, met haar bekende praatjie: Geniet jou man!. Dames het geskater van die lag en soms oopmond geluister na wat Ivy alles kwytraak.
Hilandi du Toit het ons met haar pragtige liedjies, veral Reisgenoot, bederf.
Gasvroue is deur Dischem Worcester met ‘n pragtige geskenkie bederf.
Hulle kon ook tot die skool se gemeenskapskas ‘n geskenkie bydra.
Almal se groet was dieselfde: Ek het dit so nodig gehad; ons maak volgende jaar weer so!

HTS DROSTDY-HERFSTEE
As iemand ooit seën in oormaat wil sien, kom na ons bejaarde dames se herfstee!
Dit het Saterdagoggend 13 Mei om 10:00 plaasgevind.
Ten spyte van ‘n koel windjie het nie minder nie as 160 dames opgedaag.
Hulle het van so ver as Hermanus en Montagu gereis. Party dames het gespog dat daar nie minder nie as 4 seuns in hulle families deur Drostdy is! Ander het belangstellend in die skool se jaarboeke rondgeblaai om bekende gesigte te soek.
Elke besoeker het ten minste drie tydskrifte as geskenk ontvang. Hulle het ‘n lekker koppie tee en skons van ons bobaaskombuispersoneel geniet. ‘n Plaaslike sakeonderneming het vir die dames sjokolade as ‘n bederfie kom aflewer.
Baie dankie aan ons dogters wat kom help het met die skink en Cameron Mostert wat die verwelkoming gehanteer het.
Daar is ‘n baie lekker program vir die besoekers voorgehou: Ivy Sutton het met die dames gesels oor hoe kosbaar hulle is en dat ‘n hoë ouderdom nie beteken jy is net ‘n nommer nie. Die geselsie is verder ingekleur deur Kristie Herbst van Nommer Asb-TV-reeks. Sy het ‘n gedeelte uit hulle oorspronklike teks voorgelees.
Enduit het Hilandi du Toit die dames met haar musikale vermoë en pragtige stem vermaak.