Home » Atletiek

Atletiek

Drostdy se atletiek begin jaarliks met die graad 8’s se atletiekbyeenkoms (aangebied deur die Bestuurskomitee) aan die einde van hul oriënteringsweek. Die week daarna word opgevolg met ons Interkoshuis- atletiekbyeenkoms met die fokus op massadeelname.

Die Interkoshuis-atletiekbyeenkoms is gehou op Woensdag 20 Januarie 2016. Dit was van die begin af ‘n titaniese stryd tussen die koshuise en dorp. Die meisies is ingedeel in Bergsig en Dorp en die seuns is ingedeel in Noordsig, Stalshuis en Dorp. Geluk aan Bergsig wat as wenners van die meisies en Stalshuis wat as wenners van die seuns geseëvier het. Op die dag is heelwat rekords verbeter en Noordsig het die sangbeker gewen. Geluk aan Aliza Rossouw (junoir Victrix Ludorum), Shaun Albertus (junior Victor Ludorum), Anel Pienaar (senior Victrix Ludorum ) en Christie Grobbelaar (senior Victor Ludorum)

Na afloop van die Interkoshuis-atletiekbyeenkoms het Drostdy se atlete in 2 agtereenvolgende byeenkomste deelgeneem. Op Vrydag, 29 Januarie 2016, het die Donkies hulle staal gaan wys by Paarl Bois High se atletiekbyeenkoms. Nog skole wat hier deelgeneem het, was Rondebosch, Wynberg, Outeniqua, SACS, Paarl Girls High en La Rochelle Girls High. Ons dogters bewys hulle staan nie meer terug vir groot skole nie en eindig algeheel 3de en die seuns se harde werk in die voorseisoen word beloon deur ‘n algehele 2de plek. Die byeenkoms by Paarl Bois High was ‘n groot belewenis. Die Donkies sal in 2017 weer hier deelneem.

Daar was maar min rus, want die volgende oggend om 05:00 is die atletiekspan op die bus om te gaan deelneem aan Hoërskool Stellenberg se atletiekbyeenkoms in die Kaap. Skole wat aan die byeenkoms deelneem, is Paul Roos Gimnasium, Bloemhof Meisies HS, Stellenberg, Porterville en Durbanville. Drostdy se atlete kom algeheel tweede met die byeenkoms en verower 25 goue, 22 silwer en 29 bronsmedaljes. Hugo Mostert is aangewys as seuns 0/14 se beste atleet van die dag en Janine Pienaar as die meisies 0/15 se beste atleet van die dag.

Op Vrydag, 5 Februarie, neem ons atlete deel aan die Norman Hauzer Atletiekbyeenkoms wat plaasvind op die Bellville Atletiekstadion. Skole wat ook aan die byeenkoms deelneem is Strand, Bellville, Jan van Riebeek en Curro. Die byeenkoms is ‘n vriendskaplike byeenkoms en daar is geen wenner aangekondig nie. Drostdy verower tydens die byeenkoms 34 goue-, 25 silwer- en 17 bronsmedaljes. Shaun Albertus is aangewys as die beste 0/15 seunsatleet en Anel Pienaar as die beste 0/17 meisiesatleet van die dag.

Die tempo was hoog en ons atlete was reg vir Drostdy se Prestige Atletiekbyeenkoms wat gehou is op Vrydag, 12 Februarie, te Trappespark. Die skole wat aan die Prestige Atletiekbyeenkoms deelgeneem het, was Drostdy, Brackenfell en Stellenbosch. Atlete kon in 3 items plus ‘n aflos deelneem. Die meisies eindig algeheel 2de en die seuns wen die Prestigebyeenkoms. Die gees op die pawiljoen was fantasties. Na afloop van die byeenkoms is die skoolliedere uit volle bors deur deelnemende skole gesing.

Ons lewer jaarliks talle atlete vir die Boland Atletiekspan. Neëntig van Drostdy se atlete het gaan deelneem aan die Worcester- Sone Atletiekbyeenkoms op Saterdag 13 Februarie. Ons atlete sal op die 20ste Februarie deelneem aan die Noord-Boland Atletiekbyeenkoms wat by Worcester Gimnasium sal plaasvind.

IMG_3920 IMG_4020 IMG_4038 IMG_4125 IMG_4400 IMG_4437 IMG_4525 IMG_4706 IMG_4887